Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 28 Maart 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op ‘ARMI’ en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZSOJPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB.(Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

WEN ’n MICROCHIP PICDEM TOUCH SENSE 1 ONTWIKKELINGSBORD

KEN DIE FEITE VOORDAT U DEBATTEER

INTERNASIONALE NAWEEK VIR VUURTORINGS EN VUURTORINGSKEPE NOU IN BEPLANNING

WERKING BUITE DIE BAND

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.

WEN ’n MICROCHIP PICDEM TOUCH SENSE 1 ONTWIKKELINGSBORD

Inskrywings word ingewag vir die 2010 konstruksiekompetisie wat hierdie jaar anders is. Die Suid-Afrikaanse Amateurradio-ontwikkelingstrust sien uit na ’n innoverende benadering tot ’n konstruksieprojek met aanwending in amateurradio wat gebaseer is op mikroskyfietegnologie.

Stadium 1 is die ontwerp op papier. Ontwikkel ’n projek van u keuse met die gebruik van ’n mikroskyfie en lê ’n kort beskrywing van die projek voor, met insluiting van ’n kringdiagram en ’n beskrywing van die werking. Die sluitingsdatum vir stadium 1 is 9 April 2010.

Drie inskrywings, wat volgens die opinie van die beoordelaars die mees oorspronklike is, gekoppel aan hul bruikbaarheid in amateurradio, sal elk R500 ontvang vir die bou van ’n prototipe vir inskrywing in die tweede stadium van die kompetisie

Die inskrywing in die tweede stadium is ’n volledig saamgestelde, werkende eenheid. Dit moet vergesel wees van al die benodigde papierwerk sowel as ’n artikel met kringdiagram en illustrasies geskik vir publikasie in Radio ZS.

Die wenner van die inskrywing in stadium 2 sal ’n Microchip PICDEM Touch Sense 1 Ontwikkelingstel sowel as ’n ARRL-handboek ontvang. Die twee naaswenners sal elk ’n ARRL-handboek ontvang. Die sluitingsdatum vir stadium 2 is 10 Mei 2010.

Die eerste prys sal tydens ’n gala-ete op 17 Mei 2010 by die Midrand Protea Hotel aan die wenner van die kompetisie oorhandig word.

Verkry al die besonderhede by www.amateurradio.org.za.

KEN DIE FEITE VOORDAT U DEBATTEER

Debat is gesond, maar jy behoort die feite te ken voordat jy in ’n bespreking betrokke raak. Daar was onlangs ’n debat op die SARL-forum aangaande mosies by ’n SARL-AJV waar in verskeie van die plasings verkeerde stellings gemaak is.

’n Mosie ingedien vir bespreking en aanname tydens ’n Algemene Jaarvergadering van die SARL, word in die agenda gepubliseer. Tydens die AJV kry die voorsteller van die mosie, of sy genomineerde verteenwoordiger, die geleentheid om die mosie, en addisionele inligting en motivering, voor te lê. Die mosie word dan deur die lede teenwoordig gedebatteer. Dit is vir ’n lid moontlik om gedurende die debat ’n amendement tot die mosie voor te stel. Dit moet deur ’n ander lid gesekondeer word voordat die amendement bespreek word. Dit is ook moontlik dat ’n amendement tot ’n amendement voorgestel kan word.

Aan die einde van die debat kry die voorsteller van die oorspronklike mosie ’n beurt van twee minute vir slotargumente en daarna word gestem. Daar word eerste oor die laaste amendement gestem. Indien dit aanvaar word, val al die ander amendemente en die oorspronklike mosie weg en die geamendeerde mosie word aanvaar. Daar word om die beurt vir al die amendemente gestem en, indien verwerp, dan word daar finaal oor die oorspronklike mosie gestem.

’n Ander debat was oor die voorgestelde wysigings aan die grondwet. Die veranderings is hoofsaaklik kosmeties en sluit besluite in wat by vorige AJV’s geneem is. Die SARL se Presidentsnet op 11 April sal gewy word aan die verduideliking van die voorgestelde wysigings. Klubs word uitgenooi om hulle herhalers aan die telekonferensienetwerk te koppel deur ’n versoek te rig aan armi@sarl.org.za.

INTERNASIONALE NAWEEK VIR VUURTORINGS EN VUURTORINGSKEPE NOU IN BEPLANNING

’n Totaal van 100 registrasies is reeds ontvang by die webwerf waar ingeskryf word vir die 2010 Internasionale Vuurtoring- en Vuurtoringskepenaweek. Die aktiwiteit is geskeduleer vir die naweek van 21 – 22 Augustus.

Dit sal die 11de jaarlikse keer wees dat hierdie gebeurtenis plaasvind wat geborg word deur die Skotse Ayr Radiogroep en sy stasie GM0AYR. Tot datum is die registrasies uit 19 lande ontvang met feitlik die helfte daarvan uit Duitsland en Australië wat altyd hierdie pretaktiwiteit sterk ondersteun. Ander lande wat deelneem sluit in Argentinië, België, Chile, Denemarke en Engeland, om maar net ’n paar te noem. Tans verskyn daar geen Suid-Afrikaanse stasies in die naamlys op die amptelike webwerf nie.

Om te registreer, of om te sien watter vuurtorings reeds geregistreer is, besoek die amptelike webwerf www.illw.net.

SARL SE NASIONALE KONVENSIE

Hierdie is ’n verdere oproep om te registreer vir die SARL se Nasionale konvensie wat van 23 tot 25 April 2010 in Port Elizabeth gehou gaan word. Volle besonderhede is verkrygbaar van www.sarl.org.za. Indien u een van die PIC-kursusse wat in die hoofsentra aangebied word misloop, is hierdie ’n geleentheid om die kursus by te woon tydens die Nasionale Konvensie.

Die kursus ‘Leer in 4 uur hoe om mikroprosesseerders te programmeer’ wat gister in Gauteng gehou is, was oorvolskryf. Inskrywings kan nou gedoen word vir Durban, Kaapstad en Port Elizabeth. Vermy teleurstelling, skryf vroeg in. Daar is ’n aansienlike afslag vir SARL-lede. Volle besonderhede is op www.sarl.org.za, klik op RTA en volg die skakels.

WERKING BUITE DIE BAND

Daar is weer opgemerk dat sommige amateurs in IARU Streek 1 buite die Streek 1 se 160 m-toekenning gewerk het. Die onderste grens is 1,810 MHz. Dit is onwettig om 'n stasie in IARU Streek 2 en 3 te werk wat onder 1,810 MHz besig is. ZR- en ZS-stasies word herinner dat die Suid-Afrikaanse toekenning 1,810 tot 1,850 MHz is.

KOMPETISIENUUS

2010 SARL KOMPETISIEHANDBOEK

Die Kompetisiehandboek is bygewerk ten opsigte van klubs wat kompetisies borg en 'n aantal grammatikale foute is reggemaak. Die nuwe weergawe van die 2010 SARL se Kompetisiehandboek sal op Maandag 29 Maart beskikbaar wees, en sal die enigste geldige kompetisiehandboek wees.

Daar is drie plaaslike kompetisies in die komende week. Op Woensdagaand, 31 Maart word die tweede SARL-klubkompetisie vanaf 17:30 tot 18:30 UTC gehou in modusse PSK en RTD op 80 meter. 'n RST-verslag en 'n reeksnommer word uitgeruil. Stasies mag een keer op PSK gewerk word en een keer op RTD. Logs moet per e-pos gestuur word aan hfcontests@netactive.co.za om die komitee te bereik teen middernag op 7 April.

Op Donderdagaand, 1 April word die eerste skof van die SARL se 80 meter QSO-geselligheid vanaf 17:00 tot 20:00 UTC gehou. Dit is 'n foonkompetisie met werking tussen 3,603 tot 3,650 en 3,700 tot 3,800 MHz. Roepseine, 'n RS-verslag en die operateurs se name word uitgeruil. 'n QSO met 'n Suid-Afrikaanse stasie tel 10 punte, terwyl 'n QSO met 'n stasie buite die grense 15 punte tel. Neem asseblief kennis van amateurstasies wat AM. werk op die band. Logs moet gestuur word aan die Durban ARK, Brownleeplek 17, Bluff, Durban, 4052 of per e-pos aan zs5lp@vodamail.co.za.

Op Saterdag 3 April word die eerste skof van die RaDAR-kompetisie gehou, RaDAR is die afkorting vir Rapid Deployment Amateur Radio (Snel Ontplooiing Amateurradio.) Die kompetisie duur vanaf 12:00 tot 18:00 UTC en werking is op alle HF-kompetisiebande asook BHF/UHF en mikrogolwe en alle modusse mag gebruik word. Die doel van die kompetisie is die bevordering van die snel ontplooiing van amateurradiostasies en antennas, verkieslik sonder die gebruik van normale elektriese krag. Logs moet gestuur word aan die Lichtenburg ARK, Posbus 410, Lichtenburg, 2740 of per e-pos aan zs6lrk@nwinternet.za.org.

Die volledige reëls vir al drie die kompetisies is beskikbaar in die bygewerkte 2010 SARL-kompetisiehandboek.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Sonvlek 1 057 is groot maar is steeds onaktief. Nuwe sonvlek 1 058 is Donderdag gedoop. Dit is 'n klein kolletjie in die Noordelike halfrond van die son. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week sal tussen 20 en 25 wees.

20 en 15 m is die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende laatmiddae en die aande gaan toestande na Europa goed wees. Kontakte met Australië gaan uitdagend wees. Gedurende die middae is daar 'n goeie kans vir 15 m kontakte met die VSA. Smiddags en vroegaande gaan toestande op 15 en 20 m na Brasilië goed wees.

17 m is ook smiddags oop na verskeie gebiede regoor die wêreld. Meeste aktiwiteit is gedurende Vrydagmiddae en natuurlik oor die naweke. 10 m begin ook tekens van lewe toon.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate lewer. 20 m is baie bruikbaar gedurende die dag en goeie kontakte kan oor die langer afstande gemaak word.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

31 Maart – SARL-80 m-klubkompetisie met PSK en RTD, 17:00 – 20:00 UTC.
1 April - 1ste been van die SARL se 80 meter QSO-geselligheid, 17:00 tot 20:00 UTC.
3 April – 1ste skof van RaDAR-kompetisie, 12:00- 18:00 UTC.
9 April – Sluitingsdatum vir stadium 1 van konstruksiekompetisie.
11 April – Presidentsnet om 19:30.
17 April – 2010-SA AMSAT-ruimtesimposium.
23-25 April – SARL Nasionale Konvensie, Port Elizabeth.
24 April – PIC-programmeringskursus in Port Elizabeth.
10 Mei - Sluitingsdatum vir stadium 2 van konstruksiekompetisie.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars deur te stuur. Stuur dit indien moontlik in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “ARMI” en volg die skakels. ‘n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na ‘n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel en geredigeer is.

Dankie dat u saamgeluister het.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003